Die GROOT week het aangebreek – Groot Interjol 2017 is hier!

Die week word gekenmerk deur sport en ook baie “sports”. Alle aktiwiteite van Saterdag vind op Hoërskool Upington se velde plaas. Daar sal baie sitplek wees, maar die toeskouers kan maar `n opvoustoel saambring as u gemaklik op die plek van u keuse wil sit.

Daar is gazebo-spasies te koop by die skool. Indien u belangstel, kan u vir Altus van den Heever skakel by 0829229681. U is verantwoordelik vir u eie gazebo en ook vir die opslaan daarvan. Nadat u u spasie gereserveer het, kan u Vrydag of Saterdagoggend  u gazebo kom opslaan op die aangewese plek. U mag slegs u gazebo kom opslaan Vrydag, tussen 16:00 en 18:00 en Saterdag tussen 7:00 en 8:00. Daarna sal u die spasie verbeur en ongeallokeerde spasies sal dan uitgegee word.

Alle voertuie parkeer buite die skool. Beperkte aantal betaalde parkering is by Voorpos / Fanie Malan beskikbaar. Die parkering voor Dicky Jacobs Stadion en Gordonspark is egter beskikbaar. Sekuriteit gaan voorsien word. GEEN voertuie gaan binne die hekke van Hoërskool Upington gehuisves word nie.

Kaartjies vir Interjol is ook vooraf by die skool te koop. R 30 (volwassene), R15 (kind sonder skoolklere) en addisioneel R 20 per voertuig wat by Voorpos / Fanie Malan parkeer binne die heining.

Daar gaan oorgenoeg verkoopspunte wees so u kan heerlik hier kom smul aan warm kos en ook `n ou koeldrankie geniet. Daar is ook `n teetuin met sitplekke waar u kan ontspan.

Na afloop van die wedstryd sal daar die aand `n spitbraai vir alle belangstellendes wees in die klubhuis. Die hekke van die skool sal ongeveer `n uur na die hoofwedstryd oopgemaak word. U moet daarop let dat u nie u voertuig in Voorpos  / Fanie Malan se gronde kan los ná afloop van die hoofwedstryd nie. Die hekke word op `n sekere stadium gesluit.

Vooraf program:

Maandag, 7 Aug:

Vasvra om 18:00  – HU Saal

Woensdag, 9 Aug:

Tennis om 11:00 – HU Bane

Skaak om 14:00     Toerismesentrum

Skiet om 15:00     HU Saal

Redenaars om 18:00    Biblioteek

Donderdag word die tradisionele Groot Brag gehou en alle belangstellendes word daarheen uitgenooi.

Vrydagoggend word die reünie-groepe by die skool verwelkom. Daar is `n Herdenkingsdiens vir alle oud-Uppies en oud-Uppie onnies om 9:30 in die saal. HU plaas `n baie hoë prioriteit op almal wat oor die jare deel was / is van ons besondere Skool. Alle onderwysers wat vroeër by Hoërskool Upington betrokke was, word dus genooi om saam met ons dié spesiale diens meet e maak. Elkeen van u is baie kosbaar vir ons en met dié gebaar wil ons aan u bevestig hoe spesiaal u nogsteeds vir HU is. Tee vir die reüniegroepe is om 10:30 in die klubhuis.

Saterdag skop die sport af om 7:45, waarvan die hokkie se eerste seuns 10:45 en eerste meisies 12:00 speel. Die netbal se eerste span speel 11:00 en ons verwag `n lekker stryd tussen dié 2 spanne.

Na die voorskoue en voorstellings 14:25, skop die eerste rugbyspan af teen 15:00. Die spanning kan nou al gevoel word.

Kom geniet die week saam met ons. Hoërskool Upington maak sy deure vir u oop en nooi u uit om herinneringe te kom maak en ook ou herinneringe weer op te roep. Daarom nooi ons ook vir Duineveld uit om die geleentheid saam met ons te geniet en in goeie gees deur te bring.